St. Salvator Katolieke Katedraal
‘n Kort geskiedenis

Die eerste St. Salvator Katedraal a

Die Katolieke Katedraal van Oudtshoorn staan op ‘n perseel met ‘n redelike lang geskiedenis. In 1860 is die eerste Katolieke kerkgebou hier opgerig – dit was destyds die heel eerste klipgebou in die jong dorp Oudtshoorn en kon uiteindelik, ná verbouings, aan 250 mense sitplek bied. Die hoeksteen van hierdie kerk is op 8 Februarie 1860 deur Eerw. Vr. MacMahon gelê; hy was die priester op George onder wie se sorg die klein Katolieke gemeenskappie van Oudtshoorn aanvanklik geval het. Die eerste resident priester van Oudtshoorn was Eerw. Vr. B. O’Reilly wat op 12 Desember 1862 sy pligte opgeneem het. Hierdie eerste priesters was almal van Ierse, Franse of Duitse afkoms. In 1922 is die destydse Sentrale Prefektuur (wat later die Bisdom Oudtshoorn sou word) aan die pastorale sorg van die Duitse Pallottini’s oorgedra. Duitse Pallottini priesters sou tot en met 1992 die katedraalparogie bedien, waarna dit aan die sorg van die Kongregasie van die Oratorium van St. Filip Neri (met Suid-Afrikaanse priesters) oorgedra is. Vir meer as ‘n honderd jaar het die ou sandsteen kerkie die Katolieke gemeenskap van Oudtshoorn en die omliggende gebied gedien. Dié sandsteen kerk met sy pragtige sierglasvensters is in 1965 gesloop om plek te maak vir die huidige katedraal. Die katedraal is oor ‘n tydperk van twee en ‘n half jaar gebou onder leiding van die Pallottini Broeders wat werksaam was in die Bisdom Oudtshoorn. Die ongewone konstruksie van die katedraal maak dit een van die merkwaardigste kerkgeboue in die Suid-Kaap. Die katedraal is ingewy op 6 Augustus, 1967, op die Fees van die Verheerliking van Onse Here op die Berg Tabor. Hierdie is dus die Patronale Fees van die Katedraalparogie.



terug na bo | back to the top

Die katedraal is deur die Kaapstadse argiteksfirma van Bergamasco, Duncan, Hancock en James ontwerp. Dit is ‘n goeie voorbeeld van die sogenoemde moderne argitektuur van die sestigerjare van die vorige eeu wat veral ook die vernuwing in die liturgie van die Tweede Vatikaanse Konsilie weerspieël het. Die vorm van die gebou is dié van ‘n kruis met al vier die arms van dieselfde lengte. Die hoofkonstruksie rus geheel en al op vier en twintig gelamineerde paraboliese boë (elke boog bestaan uit Maranti mahoniehout van Maleisië en is in Port Elizabeth aanmekaar gesit). Dié houtboë, destyds die grootste wat tot nog toe in Suid-Afrika vervaardig is, wissel in hoogte van 70 tot 40 voet bokant die vloer. Die grootste houtboog weeg byna 3,000 lbs. Dit het ‘n spesiale swaargewig voertuig 15 ure vanaf Port Elizabeth geneem om dié houtboë die 240 myl na Oudtshoorn toe te vervoer. ‘n Mobiele hyskraan (34 ton) is ook vanaf Port Elizabeth gebring om elke halfboog in posisie op die fondamente te plaas, waarna die res van die stukke op mekaar vasgebout is. Die paraboliese boë, waarop die dak rus ontmoet op ‘n sentrale punt waar die vier arms van die hele struktuur bymekaar uitkom. Bo-op is ‘n hol toring met ‘n 16 voet hoë kruis. Daar is op ‘n koperdak besluit om die toets van die tyd en Oudtshoorn se klimaat uiterstes te weerstaan.

aa Die nuwe St. Salvator Katedraal


terug na bo | back to the top
a

‘n Seshonderd jaar oue Duitse firma het die groot sierglasvensters op die eindpunte van elkeen van die kruisvorm se vier arms vervaardig, asook die vier kleiner sierglasvensters in die katedraal self. Die groot vensters beeld onderskeidelik die Verheerliking van Christus, die Gawes van die Heilige Gees, die Maagd Maria en St. Vincent Pallotti uit. Laasgenoemde heilige was die stigter van die Katolieke Apostolaat (S.A.C.) oftewel die Pallottinis – die Pallottini priesters was op daardie stadium in beheer van die Bisdom Oudtshoorn en het saam met die broeders en susters van dié kongregasie ‘n groot bydra tot geestelike en sosiale opbou van die hele Suid-Kaap gelewer. Elkeen van die vier groot vensters beskik oor ‘n basis wat 32 voet breed is met ‘n lengte van 22 voet. Die klein sierglasvensters aan die regterkant van die hoofingang beeld St. Antonius van Padua, St. Elisabet van Hongarye en St. Patrick uit (laasgenoemde venster kom uit die ou gesloopte kerk). Links van die hoofingang beeld die drie sierglasvensters St. Christoforus, St. Thérèse van Lisieux en St. Franciscus van Assisi uit (laasgenoemde venster kom ook uit die ou kerk).



terug na bo | back to the top

Die vier klokke (wat elektronies beheer word) is in Nederland gemaak. Getrou aan Katolieke tradisie het elke klok ‘n simboliese naam: Die eerste is die ‘Salvator Mundi’ (Verlosser van die wêreld); die tweede die ‘Advocata Nostra’ (Ons Voorspreekster, ter ere van God se Moeder); die derde heet die ‘Apostolatum Significer’ (oftewel Vaandeldraer van die Here se boodskap, ter ere van St. Vincent Pallotti) en die laaste een die ‘Protector Ecclesiae’ (Beskermer van die Kerk, ter ere van St. Josef).

Die sanktum is agthoekig en vorm tegelykertyd die dak van die onderkerk oftewel kriptus (wat die Swart Madonna-kapel huisves). Die altaar vorm die middelpunt van die kruisvormige gebou. Drie arms van die kruisvorm verskaf sitplek ruimte aan die gemeente. Die vierde arm huisves die sakristie agter die sanktum en onder die koorgalery. Die katedra (biskop se stoel) is destyds deur ‘n weldoener uit Knysna geskenk. Dit is van stinkhout gemaak en rus teen die sakristie muur met sitplekke vir die klerus (priesterkoor) aan weerskante.

a Die interieur van die nuwe Katedraal
terug na bo | back to the top

Die kriptus huisves vandag die Swart Madonna-kapel. Aanvanklik was dit net ‘n kapel met ‘n altaar, gedeeltelik geskei deur ‘n pragtige sierglasvenster (uit die ou gesloopte kerk, waar dit agter die hoofaltaar gestaan het) van die agt grafruimtes vir die biskoppe van Oudtshoorn. Biskop Bruno Hippel is tot dusver die enigste biskop wat hier begrawe is. In 2003 is dié kapel egter ingerig om ‘n kopie van die Swart Madonna van Jasna Gora (in Pole) te huisves. ‘n Fassinerende en veelbewoë geskiedenis skuil agter hierdie kapel. In 1939, toe die destydse Sowjet-Unie Pole binnegeval het is meer as 1.7 miljoen Pole na Siberia geneem as dwangarbeiders. In 1942 is slegs ongeveer 750 000 van hierdie Pole vrygelaat en toegalaat om die grens na die destydse Persië oor te steek. Baie van hierdie mense was weeskinders wie se ouers in die verskriklike toestande van die Sowjet arbeidskampe omgekom het. Die Geallieërde Magte het hulle oor dié kinders ontferm en hulle is na verskillende veilige lande gestuur. So het daar ‘n groep van 500 Poolse weeskinders op 10 April 1943 in Oudtshoorn aangekom. Hier in die ou weermag barakke het hulle ‘n onderkome gevind. Die kinders was uiteraard almal Katoliek en is ook vergesel van priesters – die Katolieke gemeenskap van Oudtshoorn het uitgereik na die weeskinders en hulle laat tuisvoel. Ná afloop van die oorlog was Pole onder ‘n kommunistiese bewind en het die meeste van hierdie kinders in Suid-Afrika aangebly. In dankbare herinnering aan hul verblyf in Oudtshoorn het hulle by die vyftigste herdenking van hul aankoms in Suid-Afrika dié besonderse kopie van Pole se kosbaarste besitting – die ikoon van die Swart Madonna in die klooster van Jasna Gora in die stad Czestochowa – aan die katedraal geskenk. Dié prent is aanvanklik teen die muur agter die doopvont geplaas. By die sestigste herdenking van hul aankoms in Suid-Afrika het die voormalige Poolse weeskinders die pragtige altaar vir die Swart Madonna laat maak en is die kapel op 6 Mei 2003 gesamentlik deur Biskop Edward Adams (Biskop van Oudtshoorn) en Aartsbiskop Wesoly (Vatikaanse afgesant vir die wêreldwye Poolse gemeenskap) ingewy.

terug na bo | back to the top

Die oorspronklike plan van die katedraal het voorsiening gemaak vir vier sykapelle wat beplan is vir die ruimtes wat deur die vier arms van die kruisvorm sou ontstaan. Aanvankik is daar egter slegs twee sykappele ingerig. Regs van die sanktum die kapel van Christus die Verlosser en links die Sakramentskapel. Die ander twee ruimtes is later gebruik om onderskeidelik ‘n beeld van Onse Liewe Vrou met die Baba Jesus en St. Josef (twee pragtige handgekerfde houtbeelde uit Switserland) te huisves. Links van die hoofingang het die ou doopvont uit die voormalige kerk ‘n tuiste gekry. Regs hang ‘n skildery van St. Marie-Marguerite Alocoque en haar visioen van die Heilige Hart van Jesus met ‘n interessante geskiedenis.  In 2009 is daar ’n grootskaalse verandering aan die interieur van die katedraal aangebring. Die Sakramentskapel is verskuif na die regterkant van die sanktum en pryk nou met ’n marmeromlynde altaar en ’n pragtige houtgekerfde bo-stuk wat uit die kerk van St. Konrad op Dysselsdorp afkomstig is. Die nuwe Sakramentskapel vertoon inderdaad ’n waardigheid wat heel gepas is. Die voormalige Sakramentskapel is ingerig as die kapel van Christus die Verlosser. ’n Derde sykapel is ingerig aan die linkerkant van die hoofingang en toegewy aan die Heilige Familie, terwyl die vierde sykapel aan die regterkant van die hoofingang aan die heilige Luigi Scrosoppi gewy is.



terug na bo | back to the top

Die katedraal bied sitplek aan seshonderd mense. Tot by die toppunt van die kruis op die kloktoring kan die hoogte van dié gebou op 125 voet gereken word. Die sirkelvormige buitemuur is uit terazzo vervaardig. Al die houtwerk binne die gebou (met die uitsondering van die gelamineerde paraboliese houtboë) is destyds by die plaaslike Heilige Hart skrynwerkwinkel (by die ou Katolieke sending in Noordeinde) gemaak. Br. König, S.A.C. het hieroor toesig gehou. Die bou van die katedraal is begin deur Br. Becker, S.A.C. wat oorlede is voordat hy die gebou kon voltooi. Sy werk is afgehandel deur Brs. Orlandi, S.A.C. en Weber, S.A.C.

St. Salvator Katedraal is die kerk van die biskop van Oudtshoorn en die moederkerk van die hele bisdom wat vanaf Plettenbergbaai in Ooste, Victoria-Wes in die Noorde tot by Ceres in die Weste strek. Die katedraal is ’n sierlike baken vir die hele dorp Oudtshoorn en ’n sigbare herinnering aan die feit dat Christus inderdaad die Verlosser van die wêreld is.

a Krusifiks aan die voorkant van die Katedraal

terug na bo | back to the top terug na tuisblad | back to home page